By elke tent kan jy braai en “hot tub”, die voëls sit en dophou of op die naat van jou rug lê en luister hoe hulle sing. Jy kan ook kanoe op die dam. Daar is die opsie om spa en safari ervaringe book deur Africamps Hoedspruit te bespreek…
Jy het ook die opsie om ‘n braai of brekfis mandjie te bestel. Ons het die braai opsie gevat en het nog vir twee dae padkos gehad.
Africamps is vir ons een van die beste glamping ervaringe in Suid-Afrika en altyd op liggings waar jy naby voel aan die natuur en die skoonheid van Suid-Afrika se diversiteit kan ervaar. Ons was al by die Africamps by Stanford, Magoebaskloof en Hazyview
In Junie hierdie jaar was ons by die nuwe Africamps by Hoedspruit.
Hierdie kamp is langs ‘n groot dam en amper in die Kruger Wildtuin. Die naaste hek is Orpen. Dit is ook naby aan heelwat ander besienswaardighede in en om Hoedspruit en omgewing.
Dis só rustig, tyd staan stil. In die aande het die bome gereflekteer op die water, ons het sterre gekyk uit die hot tub en die laaste oggend het die stoom gewemel oor die dam asof die water enige oomblik in die pienk van die son gaan begin kook. Ons het koffie gedrink op die wal en ‘n week perfek begin…